Tuesday 13 May 2014

2014 Verkiesinguitslae: Geld het gewen

deur Iske Conradie




Stemmers onbewus van partytjies


Die aand voor verkiesingsdag is daar 'n gewoel in die Kotze-huis.

Sewe lede van die SAPCO (South African Progressive Civic Organisation) vergader op die agterstoep van partyleier Daniel Kotze se huis in Noorder-Paarl.

Hierdie SAPCO-lede sit almal op verkiesingsdag uit vrywilligheid by bemarkingstalletjies by uitgekose Boland-stempunte

Kotze vertel dat sy party nie, soos groter partye, lede of burgers kan betaal om stalletjies op te rig by elke stempunt nie.

"Die kleiner partye wat aan die verkiesing deel neem vind hulleself in die ongelukkig posisie dat hulle nie baie finansiele steun het nie, anders as die bestaande partye wat grootskaals befondsing uit die nasionale skatkis kry," verduidelik wetskenner Werner Krüll.

Die nasionale skatkis se politiekepartye-fonds word verdeel volgens die hoeveelheid nasionale en provinsiale parlementslede wat partye het. Partye wat nie lede in die parlement het nie kry nie staatssteun nie.

Volgens die Fonds se finansiële verslag van die vooraanstaande jaareinde is R108 236 911 van belastingbetalers se geld verdeel onder veertien partye.

Die grootste begustigdes in hierdie finansiële jaar is die ANC, wat 62% van die fonds gekry het, die DA met 16%, en COPE wat 9% gekry het.

Elke party moet R200 500 vir registrasiefooie opdok om aan die nasionale verkiesing deel te neem en R45 500 vir die provinsiale verkiesing.

"Die registrasiefooie is vir ons heeltemal buitensporig hoog en onnodig. Dit skyn eerder asof die groot politieke partye 'n demper wil plaas op die demokratiese proses deur te sê 'kom ons hou sekere mense uit deur die kostes so hoog te maak'," sê Kotze.

"Bedrae wat betaal word aan huidige politieke partye betaal moet drasties ingekort word sodat daar 'n gelyke speelveld is," sê Krüll.

Hy glo dat die stem van kleiner partye "noodsaaklik is vir demokrasie." Krüll vertel dat kleiner partye die geleentheid moet kry om die publiek se toegeneendheid tot alternatiewe idees te toets, wanneer dominerende partye nie die mas opkom nie.

UCOSA (Universal Civics of South Africa), 'n party wat fokus op verarmde Suid-Afrikaners het ontrek uit die verkiesing aangesien die party nie die sombedrag registrasiefooie kon bybring nie.


No comments:

Post a Comment