Thursday 17 April 2014

Sherlin Barends: ʼn egte weerspreking

Dis 'n Maandag-laatmiddag in Ida's Valley. Sherlin spring uit die taxi uit. Ek agterna. Sherlin lyk of sy wil lag vir my. Sy kyk my so reguit in die oë asof ek moet weet waarvoor.

Wil sy lag omdat ek so belaglik stereotipies lyk? 'n Lomp wit meisie wat nie weet waar om af te klim en hoeveel taxi-geld om af te tel nie. 

Tog staar Sherlin ʼn mens altyd so stip in die oë. Dis asof mens 'n boek is wat sy wil lees en verstaan en waarvoor sy wil giggel wanneer dit kostelike gedeeltes in het.

Die straat waarin ons uitklim lyk soos 'n mense-straat. Kort kruisiesdraadheinings met skreeu-hekkies en mense wat met oop deure binne-buitetoe, buite-binnetoe beweeg deur die dag.

'n Paar huise af in die pad - ons gaan eers pit-stop by ouma. "Wat noem ek jou ouma?" vra ek. "Ouma. Almal hier is mekaar se oumas en uncles and aunties, maar jy hoef nou nie my pa Dêdda te noem nie, dis nou bietjies te erg".

Auntie Roseline antwoord die deur. Sy versorg vir ouma omdat ouma na haar gekyk het. Sy groet ons en ons almal skuif in die donker huis af in die gang na ouma se kamer toe. Meeste van die ligte is afgeskakel, maar die gangmure wat horisontaal verdeel is in een helfte pienk en een helfte turkooise verhelder die hele huis.

Hierdie lyk nou na 'n wonderlike huis. Dis 'n huis stampvol wit olifantjies, sentimentele muurversiersels en familieherinneringe.

Ouma se kamer laat mens dink aan Noordkaap huisies: dis kleurvol, daar is oral patroontjies, baie roospienk met 'n lae bedjie en 'n eenvoudige spieëlkassie in.

Die kleinste ouma lê in reg die middel van die bed. Shirlen groet ouma, stel my voor en sê vir ouma dat Edgar (Shirlen se kêrel), wat aan die anderkant van die bed staan, ook kom kuier het.

Ouma vra seker vyf keer of ons op pad skooltoe is. "Ons kom nou terug van skool ouma" gil Shirlen ordentlik in ouma se oor.

Daar's 'n goue ring aan Sherlin se vinger wat sy nooit afhaal nie. Dis 'n ring wat ouma haar gegee het. Auntie Shirene, Sherlin se ma, sê ouma het dit op die kerkgronde vir Shirlen gegee nadat ouma laasjaar gediagnoseer is met kanker.  "Dit was 'n tipe van 'n afskeid", sê Auntie Shirene, "deur haar toe te vertrou met die ring en self afskeid te neem van aardse dinge".

Sherlin druk 'n tjoklit in ouma se spieëlkaslaai. Ons groet en stap dan 'n paar huise af na Sherlin se nuwer huis. Sherlin-hulle het grootgeword in 'n plekkie agter ouma en oupa se huis. Sherlin se pa, Uncle Lionel, het later sy ouerhuis oorgekoop, maar bly die laaste vier jaar in 'n huis af in die pad.

Van die een huis na die ander is dit 'n warboel kleure en kleinighede na 'n skoonpienk moderne gebou. Binne die huis is die kontras tussen die twee blyplekke selfs groter. Hierdie moderne woning het 'n vasgestelde kleurskema: dieprooi en bruine. Dit het 'n ruim gestroopte gevoel. Ordelik. Niks wat rondlê nie. Ek kan 'n foto vir Visie-dekor neem as ek sou wou.

Sodra ons in die kombuis kom skel Uncle Lionel ons vrolik omdat ons laat is en groet my met 'n druk en Kaapse Afrikaans. Hy is die eerste en enigste persoon wat Kaapse Afrikaans met my praat vir die aand.

'n Monstergroot Maltese-hondjie, Lucky, hardloop by die houttrappe af om Sherlin te groet. Lucky is 'n halwe meter lank en twee hande breed. Sherlin se baba.

Sy skep vir Lucky soggend kos op – die oorskiet van die vorige aand se menskos. Lucky is die lewende bewyse dat honde-ontwikkeling net onderdruk word met 'n hondepilledieet.

Op met die trappe is Sherlin se kamer. Dis 'n mini weergawe van die sitkamer: dieprooi, simplisties, oop spasie. Daar hang 'n groot portret van Marilyn Monroe en langsaan 'n spierwit Monroe-snit rok wat kunssinnig langs die portret vasgepen is.

Sherlin bel vir gou vir Nadia, haar beste vriendin, en hoor of sy wil oorkom vir aandete. Nadia gaan gou oorkom.

Met die oploop na vanaand het Sherlin dit duidelik gemaak sy wil hê ek moet weet hoe haar elke dag lewe lyk. Haar gesin het gewoonlik net op Sondae aansit-etes. Maandae aande is almal gewoonlik op hulle eie missie. “Toast of iets vir aandete”.

Sy ry elke dag taxi. Sy praat oorronde Afrikaans met witmense en Kaapse Afrikaans met bruinmense en sy is gefrustreerd daarmee. "Ek wou dit nou nie vir jou spoil nie, maar jy gaan sien ek is 'n regte chameleon. Ek wou kyk of jy dit self optel".

Almal skep kos op. Laughton - Sherlin se jonger boetie - bietjie later omdat hy in sy kamer was. Hy het nie geweet ons skep al nie.

Dit reën en die kaggelvuur knal. Sherlin, Auntie Sherine, Edgar, Laughton en Nadia wieg tussen oorronde Afrikaans en Kaapse Afrikaans soos hulle tussen my en hul geliefdes stories vertel.

Edgar en Sherlin gaan byna sewe-jaar aan en af uit. Ek vra Edgar wat vir hom die mooiste eienskap van Sherlin is. Hy kan my nie regtig antwoord nie. Hy gee my vae woorde wat steier oor die onuitdruklike groot liefde wat hy vir haar het.

Nadia, uncle Lionel en auntie Shirene praat in dieselfde manier oor haar.

Niemand is skaam om haar sterk en swakpunte op die naam te noem nie. Shirlen is “hardkoppig”, “sterk”, “aanpasbaar”, “ʼn chameleon”, “verstrooid” en “perfeksionisties”. Sy is “onvoorspelbaar”, “noukerig”, “deeglik”, “manipulerend”, “sjarmant”, “lojaal”, “sy weet wie sy is”, “sy soek wie sy is”, “sy is plat op die aarde”, “sy hou van glamour”, “sy is ʼn work in progress”. Ongeag wat hulle sê, hoe hulle dit sê, verklik hoe diep verlief en vervoer hulle is deur haar.

Teen die einde van die aand is Shirlen se make-up amper af. Sy nie meer gepolish nie. Sy lyk bekommerd oor more se opdrag, of sy dit so volmaak gaan kan doen soos sy dit wil doen. Nes almal sê sy is oor elke ding wat sy aanpak.

Ons klim in die kar. Uncle Lionel gaan vir my en Edgar gaan aflaai. “Hierdie is my gunsteling musiek”, sê uncle Lionel en begin weer saam sing in sy operette-stem met Laurika Rauch. “Daar’s eintlik ʼn boerseun wat wil uitkom binne my pa. Hy wou my broer ‘Dewald’ noem” giggel Sherlin.

Shirlen lag vir haar pa asof hy ʼn kostelike storiekarakter is wat deur en deur lief het ten spyte van sy weersprekings. 

Sy kyk so na al haar ander geliefdes ook. Sy kyk so na my ook.

Sherlin is ʼn samestelling teenstrydige. Sy wys graag vir my haar weersprekend uit. Soos ʼn paar aande vroeër toe sy my opgewerk vertel het van haar taal, Kaapse Afrikaans, in haar oorronde Afrikaanse aksent - haar “tool” soos sy dit doop

Sy sê haar taal verdien ʼn volwaardige plek in Suid-Afrika, nie ʼn middelplek of ʼn domain nie. Sy vertel hoe haar mense soos middelmense voel in Suid-Afrikaanse geskiedenis en hoe sy weet sy sal aanhou oorronde Afrikaanspraat. Mense luister twee keer as sy so praat. Sy voel skaam en gefrustreerd met haarself.

Sherlin is ʼn teenstrydige karakter. Wat sy nie verstaan nie is dat almal weersprekende karakters is en dat die feit dat sy dit weet en saggies beplan hoe sy dit gaan oorkom, haar besonders maak. ʼn Opregte weerspreking van ʼn mens. Dis hoekom haar geliefdes haar bewonder.  




No comments:

Post a Comment